So het nog ’n jaar ten einde gesnel.
Almal van ons het goed en sleg beleef in hierdie jaar.
Voorspoed en teëspoed is deel van ons almal se lewe.
Die vraag is nie of dit oor jou pad kom nie, maar hoe jy dit hanteer.
Ons het mos nou al in die lewe geleer dat die beste manier om dit te hanteer is om in voorspoed dankbaar, en in teëspoed geduldig te wees.
Dit is by verre die beste beginsel om volgens te leef.
Só gaan ons die ou jaar uit, en só gaan ons die nuwe jaar binne: Voorspoed dankbaar, teëspoed geduldig.
Wanneer ek dit skryf, dink ek weer aan ’n dag saam met oom Piet daar onder die vyeboom net buite Wolmaransstad.
Ons het baie daar gesit en ek het baie daar geleer.
Sy wysheid was vol eenvoud, maar waar.
Daardie dag spring hy op, skielik en buitengewoon rats, gryp sy graaf en slaan ’n slang in die gras agter die kop.
“Is hy gevaarlik, oom?”
“Dodelik,” antwoord hy.
“Dodelik. Maar nie so gevaarlik soos die gif wat in ’n mens is nie.”
Hy verwys na die gesprek waarmee ek en hy nou net besig was, voordat hy so opgespring het.
Dit is die gif in ’n mens, sê hy, dit is daardie gif wat jy voor moet versigtig wees.
Dit maak dood, meer as wat hierdie slang kan.
Soek lig in jou.
Ek hoor hom, al is dit soms moeilik: Soek die lig, oppas vir die gif.


