Ek het die voorreg gehad om ’n geleentheidspreker op ’n geselligheid te wees waar ’n nuwe uitbreiding vir die versorging van bejaardes bekendgestel word.

Dit raak my om so ’n bietjie te dink aan die hoeveelheid tyd en geld en dinkwerk en beplanning wat in so ’n projek ingaan.

Maar dit is vir my mooi.

Dit is vir my mooi dat hierdie gemeenskap soveel aandag en tyd aan die versorging van hul bejaardes bestee.

Vir my voorlegging besef ek hoe ons na alle kante toe bewus moet wees van hoe die hantering van situasies verskillende eienskappe bevestig.

Ek besef weer duidelik dat hoe ’n mens die uitdagings van die hede hanteer, die karakter van ’n gemeenskap bepaal.

’n Gemeenskap wat positief bou en sy uitdagings oorkom, het karakter en kan vorentoe gaan.

Ek besef ook weer dat die wyse waarop ’n gemeenskap sy kinders grootmaak en oplei, die krag en die hoop wat daar is, bepaal.

’n Gemeenskap kan sy kinders kragloos en hooploos grootmaak, óf met krag en hoop vir ’n toekoms.

’n Gemeenskap se integriteit word bepaal deur die wyse waarop hy sy mense met gestremdhede en bejaardes versorg. ’n Gemeenskap wat dit nalaat, het geen integriteit nie.

Daarom is dit so belangrik dat ons karakter moet wys in die wyse waarop ons die hede hanteer; krag en hoop moet bevestig in die wyse waarop ons ons kinders grootmaak en oplei; en integriteit moet wys in hoe ons ons gestremdes en bejaardes versorg.

Só gaan ’n gemeenskap vorentoe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article