As almal wat hom geken het eerlik wou wees, sou hulle erken het dat dit maar eintlik van jongs af ’n patroon was.

Ironies genoeg het dit nie met die ouderdom beter geword nie, maar erger.

Al hoe meer mense is seergemaak.

Hy het eenvoudig altyd vir onmiddellike geluk gekies – vir die hier en die nou, eerder as vir die daar en die ver.

Dit op sigself is seker nie noodwendig ’n probleem nie, behalwe as ’n mens besef dat dit ’n patroon word. Die kies van ’n oomblik se genot bo ’n wyse en rasionale besluit.

Hy kon dit net nooit afleer nie.

Vir hom was dit ’n leefwyse, of dit nou gegaan het oor sosiaal wees, oor sport, oor kinders, oor verhoudings, oor finansies, oor waarheid, oor werk.

Hy het net die vermoë gehad om op die mees vindingryke wyse altyd so te kies dat eie genot bo alles en almal seëvier.

Namate hy ouer geword het, het ’n mens agtergekom dat hierdie weggesteekte selfsug hom al hoe meer alleen gemaak het.

Vervreem van die wêreld waarin hy leef.

Hy kon maklik jammer sê, of sê hy moes anders kies – maar in die oomblik het hy elke keer verkeerd gekies.

Maklik die skuld vir ’n ander gegee.

As daar een ding is wat ek uit sy lewe geleer het, is dit dat selfsug werklik nie betaal nie.

Miskien in die oomblik.

Maar nie op lang termyn nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article