Om oud te word kom maar met bepaalde uitdagings en dikwels met die erkenning dat jy nie meer altyd kan doen wat jy gedoen het nie.
Daarom is dit nie vreemd dat wanneer ’n mens bejaardes besoek en so ’n bietjie kuier, jy sommer gou hoor wat hul dag se nuwe, onverwagte uitdagings is nie.
Vandaar die uitdrukking altyd as ’n grap gebruik, maar ernstig in betekenis: “Oud word is nie vir sissies nie.”
Tog weet ons ook saam met die ouer jare kom ervaring en lewenswysheid en die vermoë om dinge vanuit ’n ander hoek te sien.
Op een so ’n dag dat ek lewenswysheid inasem by ’n bejaarde van 88 jaar leer ek weer iets wat ek net nooit weer wil vergeet nie.
Ons gesels oor oudword wat sy beperkinge bring, vermoëns wat afgetakel word.
Gehoor wat moeiliker is, sig wat moeiliker is, krag wat skaars raak.
Maar so in die gesprek wys hy my op ’n belangrike punt.
Hy het my altyd aangespreek as Boeta.
Hy sê: “Boeta, die ouderdom is nie maklik nie, maar daar is een ding wat die ouderdom nie van jou kan wegvat nie.”
Natuurlik is ek doodnuuskierig.
Hy gaan self verder.
“Dit is die liefde.
“Om lief te hê, leer ons in die Skrif, is die grootste gawe.
“Dit kan nie van ons weggevat word nie.
“As jy die gawe van liefde verloor, dan het jy alles verloor.
“Ek is oud, maar ek kan nog liefhê.”
Solank ons kan liefhê, is alles reg.

