Ek en die oom sit sommer onder die boom en gesels.
Ons vier hul 50ste huweliksherdenking. ’n Mooi en geseënde tyd saam.
Ons gesels oor die seëninge, die uitdagings, die maklik, die moeilik.
Hy deel so ’n bietjie uit hul lewe. Kom dan op die mooi punt dat hy vertel dit is ’n pad wat lei tot waar ’n mens sê: Ek wil nie baklei nie; ek wil nie my stem vir jou verhef nie; ek wil jou nie seermaak nie; ek wil jou nie ongelukkig sien nie.
Ek wil hê jy moet voel dat jy hier tuishoort.
Dat jy veilig is.
Jy moet weet ek sien jou raak. Selfs aan die ander kant van ’n vertrek.
Wanneer ek aan jou raak, voel jy omgee en ander sien omgee.
Jy sien, vertel hy, toe ek en die tannie ontmoet het, was ons op ’n plek in albei se lewe dat ons genoeg seer, genoeg vernedering vir ’n leeftyd ervaar het.
Hy beklemtoon: Genoeg vir ’n leeftyd.
Ja, daarna het ons mekaar kwaad gesien, ons het baklei, ons het mekaar misverstaan, maar niks daarvan was aspris nie.
Ons het nie mekaar probeer te na kom nie, nie mekaar afgeknou nie.
Ons het seer geken; daarom vernietiging voortdurend probeer voorkom.
Die tannie kom sit by ons, soen hom op sy voorkop.
Hul oë gesels met mekaar en ek besef maar net weer hulle deel wat ander nie verstaan nie.
Binne twee jaar daarna is albei oorlede, maar tevrede en geseën, want hulle het ware liefde geken.

