Twee dae terug was dit nie daar nie. Glad nie.
Gisteroggend getuig twee blommetjies op die grond iets het oornag verander, en vanoggend getuig ’n hele boom daarvan. Pragtig pers oortrek.
Dit is Oktober. Die Pretoria-jakarandas is skielik in volle bloei.
Skielik is die regte woord, want dit voel of dit ’n mens oornag bekruip het.
Een oomblik lyk die bome nog vaal en winters, en die volgende oomblik breek kleur deur na alle kante.
Natuurlik het die lente reeds haar rok kom aantrek in verskeie blomme en bome, maar die jakarandas skree dit uit.
Die koue het verbygegaan, die nuwe seisoen is hier.
Elke jaar kan ek my verstom aan hoe gou en hoe mooi ’n hele omgewing kan verander wanneer die bome ’n nuwe seisoen só aankondig.
Oor ’n kort tydjie sal die blare kom, en dan sal die somer weer op sy eie manier vrug dra.
Natuurlik het die onverwagse reën dit aangehelp, maar skielik is alles hierdie week net nuut.
En so besef ’n mens jou eie nietigheid. Hoe gering is ons tog nie?
Ons kan doen wat ons moet doen en ons kan werk waaraan ons moet werk; maar seisoene draai, dit kan ons nie.
Vir die jakaranda haar lentekleure aantrek, dié kan ons nie.
Die tyd van die koraalbome se blomme het al begin verbygaan, die varkore spog al met ’n tweede kleed vir een seisoen, die bome en struike kom so stuk-stuk aan.
Elkeen op sy tyd. Hoe klein die mens. Hoe wonderlik om in God se skepping te mag leef.

