As die wêreld vir ons almal sonder konflik kon wees, sou dit soveel makliker wees.

Ongelukkig is konflik deel van ons leefwêreld. Daarom moet ons konflik sterk leer hanteer.

Mense wil konflik vermy asof vermyding alles gaan oplos. Tyd help soms om konflik sagter te maak, maar meestal moet konflik aktief hanteer word.

Die beste, logiese en eerlikste manier om konflik te hanteer is deursigtig, direk, probleem-oplossend en toekomsgerig.

Wanneer ’n mens hierdie vier dinge regkry, vorder jy.

Konflik word selde opgelos wanneer jy een van die volgende drie metodes gebruik – afsonderlik of in ’n kombinasie.

Die eerste moenie in die hantering van konflik is die verplasing van skuld. Wanneer jy dadelik en ondeurdag skuld verplaas, iemand anders verantwoordelik hou vir jou woorde, gedrag en optrede, en nie self verantwoordelikheid daarvoor neem nie, help dit niemand.

Die tweede moenie is om, in plaas van te fokus op die saak, dadelik te spring na soortgelyke voorbeelde en optrede wat daarmee jou aandeel versag of motiveer. Ongelukkig vergroot dit dikwels net die konflik.

Die derde moenie is om die onregverdige te regverdig. Daar waar jy weet jy nie meer kan stry nie, maar aanhou. Aanhou stry waar jy al moes ophou. Om die regverdige te regverdig, maak sin. Om die onregverdige te regverdig, vernietig.

’n Kombinasie van die drie is die gevaarlikste. Veral as dit ’n patroon in jou konflikhantering word.

Onthou: Deursigtig, direk, probleemoplossend en toekomsgerig.

Dit help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article