Die bekende historikus Louis Bothma skryf onlangs so mooi dat “as ons die toekoms in besit wil neem, moet ons heel eerste besit van ons geskiedenis neem.”
Wat hy skryf, is so geweldig belangrik.
Soms is ons huiwerig om die verlede te hanteer, eerlik daarmee te handel en dit te leer ken vir wat dit was; en vorentoe te gaan met wat ons weet.
Om in die verlede te leef is gevaarlik. Om nie uit die verlede te leer nie, is dom. Die geskiedenis leer so baie.
’n Mens kan dit ook ervaring noem.
Hoe meer jy leer van wat verby is, hoe makliker bou jy – vermy jy foute en bou jy ’n toekoms, nie op die verlede nie, maar met die lesse van die verlede in gedagte.
Dikwels is mense te bang om terug te kyk. Soms te arrogant. Partykeer net lui.
As jy effektief en kragtig wil vorentoe gaan, moet jy moeite doen met die geskiedenis van jou mense, jou land, jou omstandighede, selfs jou eie lewe.
Leer ’n bietjie deur stil te gaan staan. Oordink. Gaan dan vorentoe.
Moenie maak of die verlede nie bestaan nie, asof daar nie ’n konteks van gister is en asof jy vandag in die eerste geslag is wat al die wysheid in pag het nie.
Terugkry maak soms baie seer. Dit laat onthou, dit bring detail en ’n mens wil dit soms net toedruk.
Maar moenie.
Om ’n toekoms in besit te neem, moet jy besit neem van jou eie geskiedenis.

