Van tyd tot tyd gebeur dit dat ’n mens onverwags aan iemand terugdink.
Juis in hierdie week, in ’n effens anders-as-die-gewone-werksroetine, het ek die voorreg om vroegoggend rond te loop – en dink ek weer aan tannie Bep.
Ek loop in motreën, en ’n mens kan die mooi nie mis nie.
Orals om my is groepe apies wat tussen bome en plante rondhop.
Maar die bome getuig van hoogsomer, mooi blomme en baie vrug.
Ek verstom my aan lopende water wat oor klippe kabbel, aan kleure van blomme en soorte van blomme, aan klowe en klippe, aan bome van verskillende grotes, verskillende ouderdomme en kleurryke skakerings van groen.
Die natuur en die mooi daarvan is te veel vir ’n mens se begrip.
Voeg daarby die mooi van sonsopkoms en wind wat deur blare ritsel. Met al hierdie mooi onthou ek tannie Bep vanoggend.
Sy was met dié gebeurtenis reeds 87 jaar oud en ’n formidabele ou tannie.
Ek het ’n paar van hulle Donderdae vir Bybelstudie opgelaai.
Vir my en hulle was dit die week se heerlike kuier.
Dit is op so ’n Donderdag wat tannie Bep morsdood voor in die paadjie gaan staan op pad voordeur toe.
Sy buk af na ’n pragtige roos en sê: “Ek loop so vinnig, amper vergeet ek om stil te staan en te kyk. ’n Mens moenie.”
Dié woorde van tannie Bep word ’n lewenslange leerskool.
’n Mens moenie.
Moenie so vinnig loop dat jy die mooi verbyloop nie.

