Oor die positiewe waarde van humor en saam lag het ons al so baie geskryf.

Dit is goed en nodig en sommer net lekker as humor mense saambind en saam vorentoe vat.

Dit is goed om in bedrukte tye sommer net die atmosfeer te verander.

Dit is wonderlik as iemand die gawe het om op die regte tyd die regte mense op die regte manier te laat lag.

En ons mense is so lief vir lag. Vrolik wees is deel van wie ons is.

Dit hoort ook so.

Daarom is dit wonderlik as ’n mens, selfs in moeilike tye, ’n bietjie kan saamlag.

Daar is egter ook ’n negatiewe kant aan humor.

Wanneer ’n mens ’n grap maak ten koste van iemand, of ’n grap wat geweldige gevolge in ’n ander se lewe het, is dit geen grap meer nie.

So, hoe waardevol dit ook al is om saam te lag en saam vrolik te wees, net so versigtig moet ’n mens wees in ’n vriendekring, in ’n gesin en saam met kollegas as jou grap mense seermaak.

Nog erger, as dit gevolge inhou wat vernietigend is.

Jou grap is dalk lankal vergete, dan is die invloed en die gevolge en die seer nog daar.

’n Grap is net ’n grap as dit nie ten koste van iemand is nie.

As dit nie vernietig nie.

As dit nie gevolge nalaat wat onomkeerbaar is nie.

As ons lag, laat ons saam lag.

Laat ons lag tog nie wees ten koste van ander nie. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article