Wat weet jy van die feite?

Hierdie enkele ou sinnetjie moet ons mooi oordink.

Mense kan mekaar so maklik doodmaak sonder dat ons die feite van alle kante het.

Die storie agter die storie.

Ons kies kant en ons bespreek, ons beoordeel en ons besluit, ons skryf af en ons weet beter, ons maak seer en ons vernietig.

Wat weet ons van die feite?

Die skaamste wat ek in my lewe gekry het oor mense is elke liewe keer as ek besef ek het nie die feite gehad nie.

Of iemand anders se seer afgemaak omdat ek nie verstaan het nie.

Of beter geweet het omdat ek gedink het ek weet.

Gepraat het voor ek moes.

Gedink het ek weet wat aangaan.

Hoe is dit moontlik dat ons so rond met waarheid omgaan, dat ons so ons eie waarheid bou en gehandhaaf wil hê?

Hoe kan ons so maklik ons eie seer voorop stel.

Nonchalant wees oor die kant van ’n ander?

Dit maak ’n reuseverskil in jou lewe as jy begin vra: Wat is die feite?

Dit kom nie vanself nie.

Ons moet aanleer om te werk met dit wat werklik is.

Ons kan al in die rondte draai en al in die rondte praat juis omdat ons nie feite ken of wil hoor of wil in ag neem nie.

Dit is makliker om te werk met ons kant van die storie.

Laat ons leer om sag te werk met mense.

Vra altyd: Wat is die feite?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article