’n Mens kan maklik gegooi word met die lelik en die swaar van elke dag.
Daar is genoeg nuus wat ’n mens gewoon mismoedig kan maak.
Dit is geen wonder dat ons soms so vasgedruk voel deur die eise van die tyd nie.
Juis daarom is dit nodig om deeglik op te let hoeveel mooi daar wel rondom ons is.
Elke dag wanneer jy wakker word, het jy die vreugde van ’n nuwe dag.
En as jy mooi oplet, is daar mooi oral om jou heen.
Daar is mooi in die blomme langs die pad. Ja, ook in die herfsblaar en ook in die winterryp.
Daar is mooi in die mense wat oor jou pad gestuur word, en daar is mooi in die dagtaak wat vir jou voorlê.
Sodra ’n mens begin oplet, kom ’n mens agter: Ongeag alles wat ’n mens wil oorweldig, is daar ook baie dinge wat vorentoe gaan.
Daar is mense met wie jy kan saamwerk en dit wat sleg is, mooi maak.
Mooi wat swaar verdring.
Soet wat saam met suur kom.
Daar is wel ’n voorwaarde hieraan – ’n mens moet eerstens leer om die mooi te sien.
’n Mens moet leer om ’n bietjie stil te staan. Om op te let.
As jy nie ’n oomblik stilstaan en die mooi soek nie, gaan dit by jou verbysnel.
Soek die mooi.
Let op – dit is daar!
Oral om jou heen.
Die fout wat ons almal maak . . .
Ons laat toe dat donker ons oorweldig.
Moenie, soek die mooi.
Sodra jy dit regkry, lyk en voel die lewe sommer beter.


