Ons vergeet so maklik hoeveel ’n kompliment vir ’n ander kan beteken.
’n Paar keer in my lewe het ek beleef hoe iemand ’n afspraak maak om sommer net dankie te sê. Geen bybedoelings. Geen agenda. Geen heuning om die mond smeer of geen verwagting van voordele wat uit die gesprek moet vloei nie.
Net ’n gewone dankie. Terwyl ek vandag weer in so ’n gesprek is, oordink ek weer die waarde van ’n kompliment.
Ons vergeet so maklik hoeveel ons kan bydra tot die gemoed en die gesindheid van ’n ander deur gewoon, opreg en eerlik te komplimenteer.
Hoekom is ons dikwels so bang daarvoor?
Hoekom hou ons terug?
As iemand goed werk, komplimenteer dit.
As iemand mooi lyk, sê dit.
As iemand goed doen, prys dit.
Komplimente is nie kieskeurig nie. Hulle werk na die jongste kind en die oudste bejaarde.
Hulle werk vir die een wat gesond is en die een op die siekbed.
Hulle werk vir die ryke en die arme.
Ons moet maar aanleer om nie komplimente goedkoop en vals te maak nie. Waar dit opreg gegee kan word, maak dit ’n ander se dag beter.
Interessant hoe dikwels ons mekaar eerder kan teregwys, kritiek kan lewer en kan aftrek.
Ek dink aan so ’n bejaarde tannie wat ek eendag aangetref het met ’n groot glimlag op haar gesig. Haar dogter het gebel, net om te sê sy was ’n goeie ma. Sy blom daaroor.
Het jy al vandag iemand só laat glimlag met ’n opregte kompliment?

