Dit is sportdag by die skool. Die juffrou kyk vir die kinders, maar sy praat eintlik met die ouers.

Ek kom agter sy vrees ’n dag soos vandag, om die waarheid te sê.

Sy het ervaring. Ná 20 jaar in die onderwys weet sy hoe hierdie dag gaan verloop.

Ouers is ’n mededingende klomp – meer nog as die kinders. Kinders kan soms nog verloor; ouers dikwels minder gereeld.

Sy verduidelik die reëls van die dag en die belangrikheid van kompetisie in kinders se lewe.

Sy praat ’n paar woorde in cliché-formaat oor wen wat nie alles is nie.

Sy vind dit vooraf nodig om die professionaliteit van die skeidsregters van die dag te bevestig. Voeg subtiel by die ouers moet onthou dit is tog net mense en daar sluip soms foute in.

En dan sluit sy so mooi af: Kyk met ’n sagte hart na jou kind. Kyk met ’n sagte hart na mekaar. Kyk met ’n sagte hart na die ander kinders, kyk met ’n sagte hart na die dag, kyk met ’n sagte hart na hulle wat hierdie dag moet hanteer en bestuur.

Sy glimlag verleë – opreg smekend som sy op: Kyk met ’n sagte hart vandag.

Ek hoor haar.

Nie net vir hierdie dag nie, maar elke dag.

Mense is nie dieselfde nie en omstandighede is nie dieselfde nie.

Dit is maklik om fout te vind, dit is maklik om te kritiseer, dit is maklik om negatief na ander te kyk.

Dalk moet ons net eers begin om met ’n sagte hart te kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article