As ’n mens maar die wysheid gehad het om elke keer die regte en die wyse keuse te maak.

Maar dit is nie so maklik nie. Soms is dit intens moeilik.

Natuurlik is party keuses makliker as ander.

En sommige van jou keuses het minder gevolge as ander.

Die werklikheid is: Dikwels bid ’n mens, maar die antwoord is nie maklik nie.

En dikwels beredeneer ’n mens, maar die antwoord wil nie kom nie.

Van tyd tot tyd ken jy die regte keuse en antwoord, maar jy hou nie daarvan nie.

Die punt is: Keuses maak, gaan jy maak.

Soms gaan jy reg kies, goeie besluite maak en die vrug daarvan pluk.

Ander kere gaan jy verkeerde keuses maak, swak kies en die vrug daarvan dra.

Dit is ’n gegewe.

Hierdie week het ek by ’n hospitaalbed gestaan met ’n pasiënt wat ingrypende keuses moet maak.

Hy wil nie, maar hy moet.

Ek gesels met jongmense wat voor loopbaankeuses staan.

Hulle staan voor keuses wat hul tyd, rigting en plek gaan bepaal.

’n Gr. 7-leerling moet tussen skole kies.

Daar is jongmense wat moet kies oor hul lewensmaats en die pad vorentoe.

Daar is baie wat moet besluit oor hul drinkgewoontes en baie ander moet keuses maak oor vergifnis gee en vra.

Só gaan dit dag vir dag.

Mag ons biddend gelei en geleer word om reg te kies.

En waar ons verkeerd kies, mag ons uit dit groei en sterker word.

Mag jou lewenskeuses nugter, gefokus, biddend en opreg wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article