Op dié plaas staan reeds drie huise leeg.

Weens misdaad kan die boer nie meer die geboue so laat staan nie.

Hy sloop hulle nou, en ek loop juis saam met hom deur om te kyk watter materiaal nog bruikbaar is.

Die tragiese van die prentjie raak my eintlik diep.

Ons loop deur ’n huis wat eens met soveel liefde opgerig is.

Vandag is die dak nie meer stabiel nie, natuurlik is daar net leë vensterrame, die vloerplanke is stukkies en die plafonne lê oral rond.

Byneste getuig van ’n lewelose voorhuis, en waar die koolstoof eens gestaan het is net ’n skoorsteen oor.

Terwyl ek deur die huis loop, dink ek aan die liefde waarmee dit gebou is, die kundigheid daaragter, die drome wat verbygegaan het.

Ek hoor in die gang die gelag van kinders; dit is kompleet of ek uit die tannie se kombuis ’n geurige skaapboud kan ruik.

Ek sien die oupa van die familie die koffie in sy piering gooi voordat hy dit slurpdrink.

Ek sien soveel drome en gebeure en warmte en atmosfeer wat daar eens was.

En ek besef dit gaan alles verby.

Vandag staan ek in ’n murasie.

’n Ou perskeboom by die hoek van die huis getuig van ’n tyd waarin daar geplant en vrugte geëet is.

Ek besef net weer: Elkeen bou vir sy eie tyd.

Hierdie ou murasies herinner my aan die verganklikheid van alles, maar ook die opdrag om nooit op te hou bou nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article