Om van nature gasvry teenoor alle mense te wees, is nie noodwendig natuurlik vir almal nie.
Baie van ons sukkel so ’n bietjie daarmee en ander van ons leer dit ook moeilik aan.
Wanneer iemand dus van nature gasvry is, is dit net so lekker om in die warmte van daardie persoon te wees.
Met heimwee dink ek altyd terug aan die natuurlike gawe van my oorlede moeder om teenoor alle mense gasvry te wees.
Die warmte van daardie vriendelikheid vergeet ’n mens nooit nie.
Ek onthou hoe enigiemand enige tyd net daar aankom en die deur was oop, die ketel aan, die geselsies daar.
Jy sou selde wegkom sonder ’n tweede koppie koffie, selfs ’n derde en eintlik meestal sou jou onbeplande daar wees, net oorgaan in ’n saameet.
Al is dit net ’n broodjie wat gesmeer word.
Sy het selfs die gebruik gehad om altyd ekstra kos voor te berei – vir as iemand dalk sou opdaag.
En jy kon maar opdaag. En saameet.
Sy sou aanstoot neem as jy te skaam is, of sleg voel oor dit nie vooraf beplan was nie.
As iemand stop, is hy of sy ingenooi.
Altyd hartlik ontvang.
Die mooi van hierdie onthou is dat niemand ooit ongeleë was nie.
Dit is eers jare later in my lewe wat ek besef het vir so ’n gawe moet jy ’n opregtheid van hart hê en ’n warmte van menswees.
Vriendelikheid kos immers niks en om dit te deel maak mense ryk.

