Respek is ’n vreemde ding. Dit is iets wat van binne kom.
Respek is iets wat jy vir jouself moet hê, vir ander mense moet hê, vir jou leefwêreld moet hê, vir jou werksomgewing moet hê.
Interessant hoe sleg en moeilik dit is wanneer iemand nie met respek leef nie.
Respek bind mense en trek mense nader.
Wanneer ’n mens sonder respek met mense omgaan, stoot dit af, bring dit verwydering en sê dit baie meer van jouself as van ’n ander.
Daarom is dit nogal belangrik om te kyk of jou taalgebruik getuig van respek, of jou kleredrag getuig van respek, of die hantering van jou dagtaak getuig van respek, of jou omgaan met ander mense getuig van respek.
Elke mens moet met respek leef en verdien om met respek behandel te word.
Soms vergeet ons dit. Dan is ons lelik met mekaar.
In kort beteken respek gewoon om te sê ek ag myself nie so hoog teenoor jou dat ek nie let op hoe ek met jou omgaan nie.
Dit is vir my belangrik hoe ek met jou praat en met jou meeleef.
Wanneer ons met mekaar werk met respek, en meeleef, is die produktiwiteit net soveel meer, die emosies soveel minder, die sukses soveel groter en die vrede soveel anders.
Daarom hoef ons nie by ’n ander te begin nie, maar kan ons so ’n bietjie voor die spieël gaan staan en vra: Respekteer ek myself en my bure, my vriende en my kollegas genoeg?
Of moet ek ’n bietjie aan myself werk?



