Geen mens kan daaroor stry nie: Soms is jou seer só seer dat jy wil skree daarvan.
Dikwels is die seerste seer die seer wat deur mense veroorsaak is.
Ver-mense maak ons moeiliker seer as naby-mense. Naby-mense is in ons leefwêreld, in ons omgewing en in ons hart te vinde.
Daarom maak naby-mense, met al hul vertroulikheid, seerder.
Ons seer word dikwels veroorsaak deur onreg wat ons beleef, onreg wat ons aangedoen is, en ons binnekant wat wil skreeu om regverdigheid binne onreg.
In sulke dae dink ek aan tannie Mens.
Ja, dit was haar naam. Almal in die dorp het haar geken.
Die piepklein tannie met die groot hoed en die groot hart.
Jare lank het ons haar opgelaai vir kerk.
Vir my was dit van die mees spesiale oomblikke.
Die stukkie saamry van haar huis na die kerk.
Daardie stukkies ry was soos ’n ensiklopedie van wysheid wat vir ’n paar straatblokke oopgaan en dan weer toegaan, tot volgende week.
Vir my was haar menswees fassinerend, juis omdat sy so in eenvoud na alles en almal gekyk het.
Dit was op een so ’n Sondag dat ma vertel het van iemand se seer en iemand se hantering van die seer dat tannie Mens in haar opregte eenvoud opgemerk het: Jou seer regverdig nie enige optrede nie.
Vandag weer, toe ek dink hoe maklik ons seer gebruik as regverdiging vir ons optrede, onthou ek haar beslistheid.
Jy kan nie jou seer sagter maak deur ’n ander, een van jou naby-mense, seer te maak nie.

