So spoggerig soos net ’n pa en ’n ma kan wees, staan die ma tussen ’n klompie mense met haar bondeltjie en spog.

Dit is eintlik so mooi en so kosbaar.

Hulle as ouers se enigste begeerte is dat die kleintjie tog net moet mooi groei en goed grootword.

Hul hele liggaamstaal getuig van krag en energie en hoop en opwinding.

Hulle het lank gewag vir hierdie dogtertjie.

Toe kom sy.

Nou moet sy groei.

Hier in Desember terwyl alles aan die groei is in ’n geseënde reënseisoen.

’n Mens kan nie anders as om ’n mens te verstom aan hoe alles groei nie.

Ek moet ’n boom verplant wat deur sy pot gegroei het.

Groei en seer gaan dikwels hand aan hand.

Ons het aan die einde van nog ’n jaar gekom.

Kyk ons terug op die jaar besef ons ons het almal gegroei.

Wie jy ook al is, waar jy ook al woon of werk.

Jy kan nie aan die einde van ’n jaar kom sonder dat jy gedurende die afloop daarvan groei beleef het nie.

Van die groei was soos daardie boomwortel wat deur die pot in die plaveisel gegroei het. Vorentoe, maar nie sonder seer nie.

Ander groei was soos daardie dogtertjie in haar ma se arms. Positief en opwindend.

Ons groei.

Deur seëninge en seerkry, deur opdraandes en afdraandes, deur verhoudings, deur mense, deur omstandighede, deur lewe en deur dood, deur siekte en deur gesondheid.

Elke uur, elke dag, elke maand, elke jaar, so groei ons almal.

Mag dit wees dat 2022 se groei jou tot seën was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article