Duisend-tweehonderd. Dit is die presiese getal boodskappe wat my buurtgroep vandag (ja, net vandag) gewissel het oor die kragsituasie waarin die buurt hom bevind.
’n Mens sien amper hoe die lede van die groep, my bure en die gemeenskap om my, in die verskillende fases van trauma is.
Party is in absolute ongeloof dat ons al 40 uur sonder krag is ná kabeldiefstal. Ander ly aan skok, ’n paar ander wil verwyt en ’n klompie ander wil vuiste swaai. Party raak senuagtig, en dan is daar altyd die paar wat namens dié wat nie weet hulle is dankbaar nie, ook dankbaar is.
Daar is ander wat koeldrank wil vat vir dié wat oortyd werk en daar is dié wat sê niemand bring vir hulle iets vir hul oortyd nie. Ander maak gou vrede met die konteks en ander wil pro-aktief seker maak dit gebeur net nooit weer nie.
Sommiges verwag raad van raadslede en ander meen dat daar nooit weer in die ou woonbuurt enige hulp kan wees nie.
En sodra ’n mens dink daar kan niks nuuts wees of iets wees om oor te lag nie, sal iemand ná drie dae en 1 200 boodskappe vra: “Is nog iemand se krag af? Ons krag is al sedert Woensdag af.” Dit is op daardie stadium dat die geskokte in ongeloof ’n groep verlaat, die kwaaies ’n string rooi gesiggies stuur en ’n ander gewoon antwoord: “Rêrig?”
Ná alles bly ons almal maar net mens, nè.

