“Sy wil ook net iets tel,” en met hierdie woorde verduidelik die juffrou aan die ouers hoekom hul kind se gedrag soveel anders is as wat hulle verwag.

Hulle is nou al verby die punt waar gewone raas sou help; of verklarings soek of enige raad net toepas.

Hulle is eintlik reeds moedeloos.

Dit is die juffrou wat die mooi van hul dogter belig, op ’n besonderse manier.

Wat sy wel na vore bring, is hoe ons eintlik almal net ’n bietjie wil tel.

Iets wil werd wees.

Erkenning is vir ons almal belangrik.

Dit is lekker om erkenning te kry.

Dit moet ook vir ons lekker wees om erkenning te gee.

Soms is ons maar suinig met die uitdeel van die erkenning van die mooi van ’n ander.

Asof ander dit nie nodig het nie.

Ons almal het.

En erkenning bring verhouding, en verhouding bring nabyheid.

Op ’n stadium is vir ’n groep hoërskoolkinders gevra wat hul grootste vrees is in die ouderdomsgroep waar hulle tans is.

Hul antwoord was amper deur die bank: om nie goed genoeg te wees nie.

Wat veroorsaak dat ons dink ons is nie goed genoeg nie; ons moet altyd ’n ander wees?

Dalk dat ons uit glashuise met mekaar handel?

Dalk dat ons nie genoegsaam handel met die mooi en die goed en die gawes van ’n ander nie?

Almal van ons wil iets tel.

Iets wees.

Genoeg wees.

Wees die verskil in ’n ander se lewe en laat elkeen tel vir wie of wat hy of sy is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article