As daar nou een ding is waarmee almal van ons wys moet omgaan, is dit die naam van ’n ander.

Natuurlik jou eie naam ook, maar ook die naam van ’n ander.

Ironies hoe maklik ons opstaan en veg en te na gekom voel as ons onreg oor ons eie naam beleef, maar hoe maklik ons onnadenkend is en soms vere voel vir die naam van ’n ander.

Soms kan jy selfs net met die plant van ’n paar saadjies iemand se naam in die hede of die toekoms skade doen.

Daardie saadjies groei wanneer jy dit die minste verwag.

Die inhoud oor ’n ander se naam kan waarheid of leuen wees, maar die skade kan jy meestal nie weer bestuur nie.

Die groot stryd wat jy binne jouself moet aanknoop, is of jy bereid is om met ’n ander se naam om te gaan soos met jou eie. Wen jy wanneer jy iemand anders te na kom?

Meestal het die lewe ’n manier om met ’n draai na jou terug te kom en jou te benadeel waar jy iemand anders te na kom, doelbewus of onbewustelik.

Eintlik vanselfsprekend.

In my tyd in die Bosveld moes ek help met konflikhantering tussen verskillende groepe.

Die een groep se beredenering het my diep geraak. Die lede van dié groep was nie aanvallend of vyandig nie. Hulle was gewoon seer: Ons naam is te na gekom, hoe maak ’n mens dit reg? Niemand kon nie.

Handel wys met die naam van ’n ander.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article