Sy was eintlik al op pad huis toe vir die naweek toe sy omdraai, die trappe terugklim, sakke oor die skouers en ’n kosblik in die hand.

Asof sy iets vergeet het.

Sy vra of sy gou voor ek oppak ’n minuut kan kry.

Natuurlik is die antwoord ja.

Sy het al die pad teruggestap om ’n kompliment oor te dra van iemand aan iemand.

Sy voel om dit oor te dra voordat sy dit vergeet of dit nie meer vir haar belangrik genoeg is nie.

Sy gebruik die mooi uitdrukking: “Ek het geleer komplimente kan doodgaan as ’n mens dit nie betyds oordra nie.”

Dit is vir my mooi. In ’n wêreld waar mense so maklik sleg dink van mense en so maklik sleg praat van mense.

In ’n wêreld waar mense mekaar makliker te na kom as opbou.

Hoe mooi is dit nie as ’n mens besef dat jy deur opregte komplimente, komplimente wat uit die hart kom, juis iemand anders kan bou nie.

Ons moenie komplimente laat doodgaan nie.

Ons moet dit oordra terwyl ons kan, terwyl ons die geleentheid het.

Mooi woorde bou mense.

Opregtheid van hart wat daarmee saamkom, maak ’n reuse-verskil.

Miskien ’n stukkie interne groei vandag vir ons elkeen: Deel ’n kompliment, bedoel dit met jou hele hart en wees opreg daarin.

Moenie dat iets wat mooi gesê moet word vir en oor ’n ander verbygaan nie.

Ons laat te maklik geleenthede verbygaan waar iets moois en goeds ’n reuse-verskil vir ’n ander kon maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article