Daar is twee dinge wat ’n mens nooit moet doen nie.
Dit raak twee groepe mense: kinders en bejaardes.
’n Mens moenie aan hulle vals beloftes maak nie.
Dit is ’n nee, nee!
Dit is nie regverdig nie, en dit is nie regverdigbaar nie.
Jare gelede het ek iemand begrawe.
Dood is altyd seer en swaar, en word moeilik verwerk.
Die selfverwyt wat ek agterna by haar kinders moes hanteer, was baie moeiliker as die seer van haar dood.
Hulle was verkeerd. Hulle het dit geweet.
Toe hulle niks meer daaraan kon verander nie, het dit hulle klaar gemaak.
Ek onthou haar nog daar op Naboomspruit se tehuis se stoep.
Sy wag vir hulle. Hulle het gesê hulle kom.
Hulle sou Saterdag.
Die hele maand se Saterdae het verbygegaan.
Hulle het nie gekom nie. Ook nie die volgende maand nie.
Haar liefde vir hulle was groter. Haar antwoord was sag en mooi. Hulle sal nog. Dalk is hulle besig.
Nee, hulle sou nie vergeet nie.
Ja, hulle het gesê Saterdag.
Volgende Saterdag.
Ek het maar in die gewoonte gekom om Saterdae by haar om te ry.
Omdat ek geweet het sy wag.
Ek het geweet hulle gaan nie kom nie. Hulle het ook nie.
Ag, ek weet mos die dinge met die kinders en die sport en die geld en die tyd en die reëlings en die weer en die dit en die dat.
Ek weet, ja.
Maar ek weet ook ’n mens moenie vir ’n oumens en ’n kind jok nie.


