Daar kom baie dinge en mense oor ’n mens se lewenspad wat jy liewers maar wil vergeet. Dinge en mense wat eerder maar net agtergelaat moet word.
Soms onthou ’n mens die slegte, en dan maak dit van voor af seer, maar daar is darem gelukkig ook die mooi wat ’n mens wil onthou en wat onwillekeurig by ’n mens opkom.
Daardie legkaarte van mooi onthou-stukkies van jou lewe is meer werd as wat jy dink; dit maak jou lewe vol en bring vrede van hart en rustigheid van siel.
Elkeen van ons het daardie mooi stukkies onthou wat ons koester en toevou. En soms is dit lekker om, sonder enige rede, te gaan sit en die boek van mooi onthou oop te maak en bladsy vir bladsy weer daaroor te besin en dit te deurdink.
Dit is met sulke onthou-tye dat ek weer voor Ouma se koolstoof in Petrusburg staan en sien hoe sy die stoof met hout voer en die ketel aan die kook kry.
Dit is met sulke onthou-oomblikke dat ek ’n appelkoos vars van die boom proe.
Waar ek en Pa turksvye pluk; en daarna sit ek weer by Ma se kostafel aan.
In sulke onthou-oomblikke sit en melk ek koeie, sny ek lusern, lei ek water, slag ons skaap, jag ons springhase.
In sulke oomblikke onthou ek weer hoe liefde voel en hoe kosbaar ons naastes en medemense is.
In sulke oomblikke dink ek aan genade en warmte, aan omgee en toevou.
Om jou lewe se mooi te onthou, is ’n spesiale voorreg.

