Een van die vreemdste verskynsels van hierdie ou wêreld waarin ons leef, is dat sommige mense net nie kan sien dat die wêreld nie net oor hulle gaan nie.

’n Mens kan eintlik verstom staan oor hoe dit so sigbaar en duidelik is dat daar mense is wat dink dat alles oor hulle gaan.

Ons almal moet dit hoor: Jy is belangrik ja, en kosbaar en spesiaal en wat nog alles.

Dit is waar.

Maar die lewe is meer as jy.

Interessant hoeveel mense wat so sterk op hulself gefokus is dat hulle niks en niemand om hulle raaksien nie se lewe gewoonlik in groot bitterheid eindig.

Ironies genoeg dat in sulke gevalle ook alles altyd iemand anders se skuld is.

Asof party mense net nie insig in hul eie selfsug het nie.

Daarom is dit een van jou mooiste eienskappe as jy kan aanleer om so ’n bietjie weg te kyk van jouself.

Om nie alles om jouself te laat draai nie.

Om nie altyd te dink dat jy die een is wat reg is of alleen reg is nie.

Dit is nodig om so ’n bietjie die aandag aan ’n ander te gee, ’n ander in ag te neem en ’n ander ook te ag soos jy geag wil word.

Daarom juis, is ons so verstom as ons gekonfronteer word met mense by wie alles net oor hulleself gaan.

Selfsug vernietig en bring bitterheid.

Daarom moet ons soms duidelik sê: Jammer, maar alles gaan nie oor jou nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article