“Ek sal nog sien,” vertel sy my met meer bravade in haar stem as waarop die trane in haar oë dui.

Ek kan sien sy is hartseer, maar haar stem en haar positiewe liggaamshouding steek dit weg.

Sy het al ’n moeilike pad in haar lewe geloop. Hierdie is nie haar eerste terugslag nie.

Sy besef dit sal ook nie die laaste wees nie.

In haar 12 jaar van oudste dogter in ’n moeilike huis wees, het sy al baie geleer.

En dit is wat sy nou vertel: “Oom sal nog sien, mense is gaaf of goor.”

Sy het al geleer dat dié wat gaaf is van hart, jy op kan reken. Hulle is betroubaar en jy kan ’n pad met hulle loop.

Die wat goor is van geaardheid moet jy ignoreer, laat verbygaan en nie toelaat dat hulle onder jou vel inkruip nie.

“Die lewe is gewoon te moeilik en te sleg om nog oor goor mense te bekommer,” gaan sy voort.

Sy leer hierdie lewensles wat sy van jongs af reeds moes leer: Omring jou met gawe mense en vermy goor mense.

Dalk is dit die feit dat sy so waar praat op 12-jarige ouderdom wat my onkant vang,.

Dalk is dit die feit dat ek weet goor mense kruip soms onder my vel in.

Dalk is dit omdat ek opreg gawe mense waardeer.

Ek weet nie.

Ek weet wel sy is reg.

Gawe mense maak die lewe lekker, goor mense maak die lewe sleg.

So, is jy gaaf of goor?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article