Wanneer hierdie week se koerant in u hand is, is dit 12 jaar van Twyfelhoekie – dit is ongeveer 630 Twyfelhoekies.

Wat ’n voorreg dat ons oor soveel jare so gereeld kan saam kuier, saam dink, saam raas, saam lag, saam praat.

En ek geniet altyd jul terugvoering.

Party laat weet ons maak ’n koppie tee en dan lees ons, ander lees dit by die werk, ’n ander lees dit vir Ouma voor.

In jare beteken dit as ’n kind in gr. 1 was toe ons die eerste Twyfelhoekie publiseer het, is daardie leerling nou in matriek.

Nou en dan laat weet iemand my dat hulle ’n plakboek van ons weeklikse saamkuier maak, en soms neem iemand die vrymoedigheid om ’n idee of twee te gee waaroor ek tog asseblief moet skryf.

Ná 12 jaar kan ek getuig dat die lewe opwindend is en daar gebeur soveel dinge rondom ons, onder ons en in ons.

Daar sal altyd genoeg wees om oor te skryf.

Die lewe is so vol wyshede en dit is oral om ons.

En mense.

O, mense – daar sal altyd wees dié vir wie ons lief is, dié wat ons uitdaag, dié wat ons laat lag en natuurlik dié wat ons eerder net nie wil sien of hoor nie.

Ná alles moet ons getuig die lewe is ’n voorreg, en om daaroor te skryf is ’n voorreg.

Ná soveel jare kan ek aan al die Twyfelhoekie-lesers sê: Dankie vir ’n dosyn jare van vriendskap.

  • Die rubriek Twyfelhoekie het die eerste keer op 11 Mei 2011 verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article