Vroeër vandag lees ek ’n negatiewe plasing op die sosiale media.
’n Mens sou eintlik op elke sin en gedagte hiervan wou reageer.
Ek sien mense lewer opmerkings en reageer sterk, want dit is negatief, veroordelend. Ag, sommer net plein verkeerd.
Dit is vir my interessant, want die hele plasing getuig eintlik van bitterheid.
Dit is tog vreemd hoe bitterheid mense se lewe kan oorheers. Dit is omdat dit so moeilik is om bitterheid neer te sit.
Om van binne bitter te wees getuig meestal van ’n onreg wat jou aangedoen is. ’n Onreg wat nie reggestel kan word nie. Dikwels ’n onreg wat jyself veroorsaak het.
So kan ’n mens seker na alle kante toe omskryf hoe bitterheid veroorsaak is en gevolge het in ’n mens se lewe.
In hierdie spesifieke aanlyn plasing verwonder ek my aan hoe bitterheid rasionele denke kan verdring.
Dit laat ’n mens die skrywer daarvan eintlik jammer kry, eerder as om veglustig te raak. ’n Mens wil liewer ’n tree terugstaan en sê: Reageer nie op sy bitterheid nie, hoor eerder sy hart.
Juis omdat bitterheid ’n mens se hele lewe oorneem, moet jy daarteen waak dat dit wortelskiet aan jou binnekant.
Niemand anders kan die bitterheid in jou hart herstel behalwe jyself nie.
Daar is niemand van ons wat nie al deur die lewe gelei is op paaie waar bitterheid vanselfsprekend is nie. Die vraag is: Laat jy die bitterheid groei, of veg jy teen die gevolge daarvan?


