Vanmiddag toe dit saggies reën en ek sit en nadink oor die wonder en seën van reën, kon ek nie anders as om terug te dink aan die afgelope week nie.

Die week was omtrent ’n warboel van gebeure uit alle oorde.

Pres. Donald Trump van Amerika het die knuppel in die hoenderhok gegooi, en die hele Suid-Afrika begin mekaar slegsê.

Vriende word kwaad vir mekaar, verskillende groepe staan teen mekaar op; die een dit en die ander dat.

Wat ’n mens opval, is die skerp woorde en die felheid van gesprekke.

En ek dink aan die bekende woorde dat uit dieselfde fontein nie vars en brak water kan voortkom nie.

Die krag van woorde is geweldig.

Positief en negatief.

Dit kan bou en dit kan breek.

Dit kan reg wees en verkeerd wees.

Daarom is die ou raad mos maar aan ons elkeen gegee dat ons behoort te let op die tong en hoe ons dit gebruik.

Die tong praat immers maar net wat in die hart leef. Wat in mense se hart leef, is soms skrikwekkend.

Hoede af, in respek vir hulle wat die tong kan beheer en ’n wag voor die mond het.

Dit is maar iets waaraan ons moet werk.

Om jou tong te beheer is ’n besonderse gawe.

Die tong is immers soos ’n klein vuurtjie wat ’n groot bos aan die brand kan steek.

Tel jou woorde.

Ongeag met wie jy praat, wanneer jy praat, en hoe jy praat.

Jou woorde kan seën; jou woorde kan doodmaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article