Ek onthou hom as een van die sterk, voorbeeldige seuns uit my katkisasieklasse.
Altyd betyds, altyd voorbereid en altyd leergierig.
Swaar uitdagings was deel van sy lewe, maar waar hy in dié stadium by sy ouma en oupa gewoon het, het hy geleer om elke geleentheid wat hy het te gebruik.
Naweke het hy nie gerus soos baie ander hoërskoolkinders nie.
Lank voordat die dag begin, het hulle boeke in kratte opgelaai en hul stalletjie gaan uitpak, by vlooimarkte en op straathoeke.
Só is sy en sy sussie se skoolgeld betaal en is wat nodig was, gekoop.
Harde werk.
Juis sy gesindheid van dit doen sonder sug of kla, bly my altyd by.
Verlede week laat sy ouma ’n boodskap op die sosiale media – hy is dood aan ’n hartaanval.
Op 31.
Ek weet die wêreld is armer.
Verlies kom skielik en vinnig in ’n mens se lewe.
Jy kan nie altyd reken dat alles vas en seker is nie.
Ek gee ’n lesing by ’n groepie vroue.
’n Ma staan op en kom vertel my hoe haar seun voor haar oë, terwyl hulle gesels, net skielik sterf.
Sy het twee seuns.
Haar ander seun bel van die werk af. Hy is deur ’n spinnekop gebyt.
Die volgende oggend is hy oorlede.
In Naboomspruit het ek mense besoek wat drie kinders in drie verskillende motorongelukke verloor het.
Die skielike gedagtes aan verlies laat my net besef dat ’n mens die beste moet maak van die tyd wat jy het.
Leef jou lewe, gebruik jou tyd goed.



