Woorde dra betekenis. Dit is mos die wonder van taal en die wonder van kommunikasie.

Daarom dat daar ook maklik misverstande oor woorde ontstaan wanneer mense verskillende betekenisse aan verskillende woorde heg.

Een van die basiese vorme van alle goeie kommunikasie is om immers seker te maak dat wanneer ’n mens ’n woord gebruik die aanhoorders daarvan dieselfde verstaan as wat jy bedoel.

Een van die voorbeelde van hoe mense verskillende betekenisse aan woorde kan heg, is die begrip beleef.

Dit is ’n kragtige woord.

Sommiges beleef iets positief en ander negatief.

Sommiges beleef sekere mense positief of negatief.

’n Mens moet in hierdie lewe waarin ons leef werklik leef en nie net oorleef nie.

Jy moet positief en negatief beleef om te kan leef.

Daarom is positiewe belewenisse in ’n mens se lewe so noodsaaklik en moet jy jou omring met mense wat jy positief beleef.

Aan die ander kant moet jy die negatiewe belewenisse en mense in jou lewe sien as groei en ervaring.

As ons sê woorde dra betekenis moet ons ’n bietjie dink hoe mense die woord beleef en leef verskillend sien en ervaar.

Dalk is een van die belangrikste vrae wat vir jou lewensbelewenisse is?

Wat is vir jou lewe?

Sommige mense leef ’n lewe, maar beleef die vreugde daarvan nooit.

Ander is so vasgedraai in die daaglikse negatiewe belewenisse dat die lewe by hulle verby gaan.

So ’n lewensvraag is – beleef jy die lewe en die voorreg van voluit lewe?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article