Soms kan ’n mens net verstom en verbaas staan oor die konteks van situasies.

Rampe en onbeplande dinge oor ons lewenspad is nie vir een van ons onbekend nie.

Jy bestuur nog ewe gemaklik, ry deur ’n slaggat en het groot skade. Dit is lekker wanneer iemand kan help; dit is werklik swaar as hulp nie naby is nie.

’n Mens kan jou verbaas oor hoeveel ekstra myl iemand bereid is om te loop, selfs vir vreemdes en onbekendes, en dikwels is ’n mens ontstellend verstom oor hoe mense selfs aan bekendes nie wil hulp verleen nie.

Ek oordink hierdie situasie weer, van wanneer ’n mens help of nie help nie, met onlangse vloede in ’n spesifieke gemeenskap.

Dit is net wonderlik hoe maklik mense kan help, gee en voorsien wanneer ander se besittings alles in ’n oogwink weggespoel word.

Warm harte wat gee en gee.

Tog moet ’n mens ook die negatiewe hiervan oordink.

In ’n nag dat ’n klomp getraumatiseerde, verskrikte mense skielik slaapplek vir die nag moet vind, word aan ’n kerkdeur geklop om mense in ’n saal wat leeg staan te laat oornag.

Die antwoord is vriendelik, dog ferm. Nee – dit gaan ongemak skep.

’n Tweede klop aan ’n tweede kerkdeur word met dieselfde ongemak begroet.

Vriendelik, maar nee. Laat ons op ’n ander manier help. Dalk ’n pot sop maak.

’n Ander is meer gewillig. Natuurlik. Ons sluit alles oop. Koop matrasse, bring komberse.

Bring die koue, nat, verskrikte mense binne. Hier is min, maar hier is liefde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article