Van die Mandrax-tablette wat Dinsdag (09/05) in ’n lykswa in Kimberley gevind is.

Foto: Verskaf

Die twee verdagtes is by die lykswa, waarin dwelms versteek was, in hegtenis geneem.

Van die dwelms wat in die lykswa gevind is.

Mandrax en tik, ter waarde van duisende rande, is Dinsdag (09/05) in ’n lykswa wat by ’n winkelsentrum in Kimberley parkeer was, gevind.

Lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê lede van die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid in Kimberley het Dinsdag omstreeks 13:00 inligting wat ontvang is, opgevolg. Dit het tot die inhegtenisname van twee vermeende dwelmhandelaars gelei, asook die beslaglegging van dwelms én die lykswa.

Terwyl die span speurders die silwerkleurige Chrysler-lykswa op die parkeerterrein van die North Cape Mall deursoek het, het hulle op Mandrax en tik in ’n kompartement agter in die voertuig afgekom.

Die polisie het beslag gelê op 2 450 Mandrax-tablette met ‘n geraamde straatwaarde van R180 000, asook agt sakke tik ter waarde van R45 000. Beslag is ook op ’n onbekende bedrag kontant gelê wat vermoedelik die opbrengs van dwelmverkope is.

Kock sê voorlopige inligting dui daarop dat die voertuig aan ‘n plaaslike begrafnisondernemer in Roodepan, Kimberley, behoort.

’n Ses-en-dertigjarige man, vermoedelik die eienaar van die begrafnisonderneming, wat ook die bestuurder ten tyde van die voorval was, is in hegtenis geneem, asook sy 34-jarige manlike passasier.

Albei word vir die handel in dwelms aangekla en sal binnekort in die landdroshof in Kimberley verskyn.

Kock sê die polisie in die provinsie sal onverpoosd voortgaan om die spasie vir dwelmhandelaars al hoe kleiner te maak. Die polisie bedank die gemeenskap vir inligting, en moedig hulle verder aan om voort te gaan om die oë en ore van die polisie te wees en enige misdadige aktiwiteite aan te meld.

Inligting kan anoniem op die MySaps-app deurgegee word, of na die SMS-lyn by 32211.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article