In twee afsonderlike hofsake is twee vroue in die Keimoes-streekhof tot tronkstraf gevonnis ná hul skuldigbevinding van die moord van hul kêrels.
In een van die sake is Nadia Schwartz (29) van Currieskamp skuldig bevind aan die moord op die 28-jarige Floors Nell.
Dit volg ná ’n voorval op 30 Desember 2023 toe die polisie in Keimoes na ’n misdaadtoneel ontbied is, en Nell dood gevind is met steekwonde in die bors ná ’n onderonsie met sy meisie oor drank en geld, sê sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder van die ZF Mgcawu-distrik in die Noord-Kaap.
Schwartz is op die toneel in hegtenis geneem en is op borgtog vrygelaat tot haar vonnisoplegging op 8 Augustus.
Sy is tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is.
In ’n ander saak is die 21-jarige Annolize Beukes tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op haar kêrel, Danwil Swartz (29).
Tydens hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat die paartjie op 23 Oktober 2022 ’n rusie gehad het waartydens Beukes haar kêrel doodgesteek het. Sy is in hegtenis geneem en voor die hof gebring, waar sy skuldig gepleit het op ’n aanklag van moord.
Die bestuur van die polisie in die Noord-Kaap het die vonnisse verwelkom, en die onderskeie ondersoekbeamptes, sers. Piet Eiman en konst. Eshley Jonkers – albei aan die Keimoes-speurtak – vir hul goeie werk bedank.





