Mariana Kriel (links), Gautengse streekbestuurder van Solidariteit Helpende Hand, ontvang 100 gebreide hasies. By haar is Martie Pretorius, breier en skenker, en Yolandi Singleton, bestuurder van Helpende Hand se Ons Sentrum-terapiesentrum.

Foto: Verskaf

Die gevolg van ’n daad van liefde en ’n belofte het tot die oorhandiging van 100 handgemaakte trooshasies gelei.

Hierdie trooshasies wat aan Solidariteit Helpende Hand by sy sentrum in Pretoria-Noord oorhandig is, word na getraumatiseerde kinders versprei om vertroosting te bied.

Martie Pretorius het die trooshasies op 25 November oorhandig ná ’n belofte aan haar oorlede moeder, Anna Meiring.

Volgens Pretorius het die projek sy oorsprong gehad in haar ma se droom, om vir minder bevoorregte en mishandelde kinders iets sags en troosryk te gee.

Sy wou vir hulle ’n “trooshasie” gee om vas te hou wanneer hulle hartseer en alleen voel sodat hulle sal weet dat daar iemand is wat omgee. Tannie Anna, soos sy bekend was, wou graag self die hasies brei, maar haar hande het weens artritis dit nie meer toegelaat nie.

“Ek het haar belowe dat ek dit namens haar sal doen. Ek het elke hasie met baie liefde gebrei soos wat sy sou,” sê Pretorius.

Mariana Kriel, streekbestuurder van Solidariteit Helpende Hand, moedig ander breiers en ook die ouer garde in tehuise oor die land heen aan om trooshasies te brei.

“Solidariteit Helpende Hand sal die patroon beskikbaar stel, en ons wil hierdie projek ’n jaarlikse instelling maak.”

Vir meer inligting, besoek pretoriahand.co.za of stuur ’n e-pos na mariana@helpendehand.co.za.

Anna Meiring wou graag self die hasies gebrei het, maar haar hande het weens artritis dit nie toegelaat nie.

Anna Meiring

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article