Die bakkie lê langs die treinspoor nadat dit deur die trein getref is.

Foto: Verskaf

Vier mense is dood en drie ernstig beseer toe ’n bakkie en ’n goederetrein naby Groenwater in die Postmasburg-gebied gebots het.

Volgens kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het die ongeluk op Sondag 4 Augustus omstreeks 14:00 gebeur.

Die bakkie met 12 mense was glo besig om oor die treinspoor te ry toe die bakkie onklaar raak. Van die passasiers op die bak het afgespring en sonder sukses probeer om die voertuig betyds oor die treinspoor te stoot.

Anena Burger berig die oorledenes is: Maurice Maasdorp, die bestuurder van die bakkie; Pamela Kaarse, ’n PA-lid en vrywilliger; die sesjarige Leon Boucher; en Maureen Willemse.

Maropene Ramokgopa, minister van beplanning, monitering en evaluering, het die ongelukstoneel Maandag besoek. Die besoek kom nadat ses kinders verlede week in Mpumalanga dood is nadat ’n skoolbus voor ’n trein beland het. Sy sê daar sal saamgewerk word om waarskuwingstekens by spooroorgange te verbeter en gemeenskappe oor die gevare van spooroorgange in te lig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article