Die 20ste Tour de Ghaap-bergfietswedren het in bykans perfekte weersomstandighede plaasgevind.
Fietsryers wat dié wedren op 14 en 15 September met Ulco as begin- en eindpunt aangepak het, kon die Noord-Kaapse landskap in effense koel en bewolkte weer met amper geen wind, geniet.
Op die eerste dag is ’n afstand van 73 km op ’n sirkelroete gery waar spoed en uithouvermoë getoets is, vertel Pieter Niemann, wedrenorganiseerder. Die tweede dag het deelnemers ’n sirkelroete van 48 km aangepak waar tegniese vaardighede onder meer getoets is.
Niemann sê vanjaar se weersomstandighede was besonder, gedagtig daaraan dat ysreën, asook vuurwarm winderige dae al tydens vorige jare beleef is.
Die roete oor die twee dae word as ’n uitdaging vir professionele fietsryers beskryf, terwyl diegene wat sosiaal deelneem meer as genoeg uitdagings beleef maar dit steeds op eie pas kan baasraak. Dit bied boonop ’n goeie kombinasie van hellings, oop pad en voertuigspore.
Die algehele wenners en naaswenners in die verskillende afdelings is:
Mans: Daniel Kotzé (eerste, 4:26:01), Dusty Day (tweede, 4:26:38) en Izak Strauss (derde, 4:33:22).
Vroue: Marisca Steyn (eerste, 5:19:30), Colleen Jacobs (tweede, 5:24:40) en Johanet Heymann (derde, 5:31:34).
o.16: Ryan van Niekerk (eerste, 3:41:43); Meyer Botha jr. (tweede, 3:48:44) en Theunis van der Linde (derde, 3:56:28).
In die ouderdomskategorie vir mans tussen 40 en 49 jaar is Willem du Toit die wenner (4:57:31), Darren Ridgway in 50 tot 59 jaar (4:49:51), en Arnou Oberholzer in 60 jaar en ouer (5:07:31).
Niemann sê die fietsryers in die o.16-afdeling ry ’n korter roete, en ’n doelwit van die Tour de Ghaap is om dié jong ryers te ondersteun en blootstelling aan wedrenne te gee. Dit was wel teleurstellend dat 16 jong ryers hul deelname gekanselleer het weens naskoolse verpligtinge.
Ongeag hiervan, was vanjaar die eerste jaar ná die Covid-19-pandemie dat daar weer ’n groei in die aantal inskrywings was.
Volgens Niemann beskryf professionele deelnemers die wedren as uitstekende waarde vir geld, en besondere melding word van die etes gemaak wat tydens die naweek verskaf word. Die kampeerterrein in Ulco, waarvan deelnemers en hul ondersteuners gebruik kan maak, word as “ongelooflik” beskryf.
Dit word jaarliks deur die Berg-landbouvereniging aangebied, en Niemann bedank al die borge vir hul betrokkenheid.
- Besoek Tour de Ghaap op Facebook vir meer inligting en ’n skakel na die wedrenfoto’s.




