Organiseerders van die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi wat van 23 April tot 1 Mei ’n 13de keer aangebied word, glo die byeenkoms in Kimberley gaan nog groter as voorheen wees.
Verlede jaar is 26 000 toegangskaartjies gekoop, terwyl die 4 450 deelnemers, afrigters en organiseerders en leerlinge in uniform gratis toegang gekry het. Al die besoekers bring ’n ekonomiese inspuiting vir die provinsie mee.
Volgens Cassie Carstens, toernooi-organiseerder, groei die toernooi jaarliks. Afrigters en atlete van 188 spanne en 85 skole van die ander agt provinsies gaan tydens die toernooi in die sokker-, netbal- en rugbyafdelings meeding. Van die belangrikste rugbywedstryde word ook deur SuperSport uitgesaai.
Die byeenkoms behels ’n laerskole-, junior en senior toernooi, asook ’n Noord-Kaapse uitnodigingstoernooi.
Die rugby- en netbalwedstryde vir die laerskole-toernooi vind by die Laerskool Newton plaas; by die Hoërskool Diamantveld word die senior en uitnodigingstoernooi gespeel; en die junior rugbytoernooi is by die Kimberley Boys’ High School.
Die Sol Plaatje-Universiteit (SPU) is gasheer vir die sokkertoernooi van 28 April tot 1 Mei.
Die rugbywedstryde wat op 29 April en 1 Mei op Diamantveld se A-veld plaasvind, word op die SuperSport Schools app gestroom of op DStv kanaal 216 gebeeldsend.
Carstens sê die sokkertoernooi, wat verlede jaar deel geword het van die toernooi, is baie gewild.
“Vanjaar gaan ons die SPU se splinternuwe sintetiese sokkervelde gebruik. Dit is van die beste oppervlakke in die land.”
Hy skat dat Kimberley sowat 8 000 beddens aan besoekers bied, wat lankal vol bespreek is. Verblyf in Jacobsdal en Douglas is vol, en mense wyk uit na Hopetown, Warrenton en Barkly-Wes vir verblyf.
“Ons glo dat tussen R100 miljoen en R120 miljoen in die provinsie bestee word. ’n Mens moet onthou sodra motoriste in die Noord-Kaap opdaag, begin hulle geld aan brandstof en kos bestee.”
Hy sê voorheen was sommige kitskoswinkels se voorraad reeds die Vrydagaand uitverkoop.
“Ek glo hulle het vanjaar meer kosvoorraad bestel.”




