“Ons leef in uitdagende tye, maar dit is nie uniek nie. Elke era het sy storms. Ons moet ophou om probleme aan die volgende geslag oor te dra. Daar is nie maklike antwoorde nie, maar daar ís antwoorde. Ons het die vermoë, geskiedenis en die roeping om dit te vind.”

Só het Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, op die bekendstelling van die Toekomsplan van Solidariteit se Maatskaplikewerkers-netwerk in middel Julie gesê.

Dié plan dui aan dat die maatskaplike sektor van krisisidentifikasie na toekomsbou moet oorskakel. Dit dui op ‘n duidelike verskuiwing weg van die blote uitwys van krisisse en ‘n gekla na gefokusde toekomsbou en selfstandige optrede.

Kundiges, gemeenskapsorganisasies en ander belanghebbendes het hiertydens die tema “Van krisis na toekoms: Die maatskaplike sektor neem beheer” bespreek en ‘n nuwe rigting vir maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika te bepaal.

Toekomsberaad
Die sprekers by die Toekomsberaad is van links Heinrich Hurter, dr. Llewelyn Curlewis, Connie Mulder, Marietta Kemp, Hannes Noëth, Bianca Smith en dr. Dirk Hermann. Foto: Verskaf

Dit bevat aanbevelings en uitvoerbare stappe om die sektor te hervorm en versterk, en ook verskeie sleutelinisiatiewe. Die plan spreek kernuitdagings aan en bevat verskeie doelwitte om groter selfstandigheid, doeltreffendheid en professionele integriteit in die sektor te bewerkstellig.

Bianca Smit, netwerkkoördineerder van Solidariteit se Maatskaplikewerkers-netwerk, sê die kern is gemeenskapsgedrewe verantwoordelikheid.

“Ons wag nie meer op die staat nie. Ons neem self die leiding − vir ons gemeenskappe, deur ons mense, volgens ons plan,” sê Smit.

Sy benadruk dat volhoubare verandering slegs moontlik is indien gemeenskappe self betrokke raak.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beklemtoon die rol van gemeenskappe en die belangrikheid van maatskaplike werkers.

“Maatskaplike werkers is die binders wat gemeenskappe versterk en byeen hou. ‘n Gemeenskap wat bind, is sterk, soos ‘n driedubbele tou − dit breek nie maklik nie. Diensbaarheid, ondersteuning en lojaliteit is die drade wat gemeenskappe inmekaarvleg en maatskaplike werkers is die binders.”

Dr. Dirk Hermann

Hermann wys daarop dat die verval van staatsverantwoordelikheid ‘n werklikheid is, maar dat dit ‘n geleentheid bied vir gemeenskappe om self verantwoordelikheid te neem.

Noëth beskryf die plan as ‘n keerpunt rakende die manier waarop die gemeenskap krisisse benader.

“Die bedoeling was ‘n beraad van hoop, wat sê daar ís ‘n toekoms. Ons moet daarnatoe werk. Dit gaan nie vanself kom nie. Ons is nie aangewese op iemand anders nie. Ons kan nie wag vir die antwoorde nie; ons moet dit gaan haal,” sê Noëth.

“Verlede jaar het ons 67 krisisse geïdentifiseer. Hierdie jaar het ons begin om planne te beraam om dit op te los. Dit is nie kitsoplossings nie, maar dit is planne wat hoop en rigting gee,” voeg hy by.

Hy benadruk dat die beraad nie ‘n kla-sessie was nie, maar ‘n strategiese, doelgerigte poging om oplossings te soek.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article