In Loeriesfontein is die proses begin om inwoners te ondersteun om verbeterde toegang tot staatsdienste te kry.
Dit word gedoen deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanleg, in samewerking met plaaslike belanghebbendes, die Hantam-munisipaliteit en die Noord-Kaapse Kantoor van die Premier, om ’n Thusong-sentrum te vestig waar gemeenskapslede toegang tot staatsdienste binne die dorp sal verkry.
“Ons is opgewonde om deel te neem en saam te werk met die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanleg,” sê Ryan van Schalkwyk van die Premierkantoor.
As deel van hierdie samewerking word kantoorruimte by die Loeriesfontein-besigheidsentrum verskaf, wat sal dien as ’n spilpunt vir die lewering van dienste, insluitend dié wat betref gesondheidsorg, maatskaplike ontwikkeling, binnelandse sake, arbeid, toelae van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) en landboudienste.
Die windkragaanlegte sal die besigheidskern in 2024 in ’n Thusong-sentrum omskep.
“Hierdie vennootskap is ’n voorbeeld van ons verbintenis tot die ontwikkeling van die Loeriesfontein-gemeenskap. Deur saam met plaaslike owerhede en staatsdepartemente te werk, fasiliteer ons die skepping van ’n beter toekoms vir alle inwoners,” sê Vanessa Fredericks, ekonomieseontwikkelingsbestuurder vir die windkragaanlegte.
Die windplase sal maandelikse nutskoste dek, soos vir waterdienste, afvalverwydering, tariewe en belasting, asook versekeringspremies, om te verseker dat die Thusong-dienssentrum sy hulpbronne op die verskaffing van noodsaaklike dienste aan die gemeenskap kan fokus.
Instandhouding van infrastruktuur en opknappings sal ook gedek word om te verseker dat die gerief in ’n uitstekende toestand bly.





