Griekwas se spelers was moontlik heeltemal oorweldig deur die geleentheid om Saterdag (25/06) in die Curriebeker-eindstryd te speel, sê Pieter Bergh, afrigter van die Poubloues.
Bergh het Saterdagaand op ’n nuuskonferensie nie doekies omgedraai oor sy span se nederlaag teen die Pumas in die eindstryd in Kimberley nie. Die Pumas het met 26 – 19 gewen.
Vooraf is groot gewag daarvan gemaak dat Griekwas vanjaar die eerste keer sedert 1970 weer die Curriebeker kan wen. Daardie jaar, met Mannetjies Roux as kaptein, was ook die laaste keer voor Saterdag dat Griekwas in die eindstryd gespeel het.
“Ek het gevoel ons was nooit in die wedstryd nie. Hulle (die Pumas) het van die begin af oorheers. Grootliks omdat ons onsself in daardie posisie geplaas het,” sê Bergh.
“Ek dink ons het plankevrees gehad. Ons het nie opgedaag nie, daar was te veel foute. Die plan was om nie lynstaanbesit af te staan nie, om die bal uit te skop en hulle onder die hoë bal te toets.
“Ons het soveel sukses in Mbombela (vroeër die maand) behaal deur hangskoppe te skop en dan die bal terug te kry. Ons het die hele dag nie een hangskop geskop nie. So ons het nie ons plan uitgevoer nie.”
“Daar is soveel wat gesê kan word, maar die grootste ding miskien met hierdie jong groep (spelers) was dat die week te emosioneel was. ’n Tuiswedstryd en die praatjies van 1970, ensovoorts,” sê Bergh.
“Dit het gelyk of daar net een span was wat wou wen. Selfs met rustyd was die uitdrukking op die spelers se gesigte een van plankevrees. Ek het probeer om hulle te motiveer.”





