Byna ses jaar nadat die eerste Tankwa-bokke op die klipkoppe by die Magersfontein-museum hervestig is, gedy hulle steeds.
Die bokke is in Februarie 2016 hier losgelaat nadat Sanparke en die departement van landbou dit aan die museum geskenk het. Die oorspronklike kudde van tien ooie en drie ramme het na 40 geharde bokke gegroei.
Die ideale getal diere is 30 stuks en weens die beperking van die habitat sal hulle nou uitgedun moet word. Volgens Beryl Wilson, dierkundige aan die McGregor-museum in Kimberley, is hulle nie liggewig nie.
“Teen 90 kg in die geval van ’n volwasse ram soek niemand met hulle skoor nie. Allermins ’n jakkals of ’n rooikat,” sê Wilson.
Sy het al stories gehoor dat hulle luiperds in die Tankwa-Karoo aangedurf het. Die volwasse bokke staan in ’n kring rondom die lammers om hulle te beskerm.
“Die plantmateriaal by Magersfontein is baie meer voedsaam as in die Tankwa-Karoo en Carnarvon waar hulle was. ’n Gewone skaap of bok sal nie so groot op dié soort weiding word sonder bykomende voeding en medisyne nie.
“Omtrent elke swangerskap het ’n tweeling meegebring. Hiervan is 95% suksesvol grootgemaak. Hul aanpassingsvermoë in die geharde omgewing, en dat hulle nie baie aandag nodig het nie, maak hulle ideale kuddediere. Hulle hoef ook nie snags gekraal te word nie.
“Die bokke het oor dekades heen in die Tankwa-Karoo- Nasionale Park afgesonder en wild geword. Dit het in ’n boksoort ontwikkel wat Afrika se natuurtoestande beter hanteer en is geneties onderskeibaar van boer-, angora of saanenbokke. Hulle vreet minder as ’n boerbok, word groter en swaarder, en hul vleis smaak heerlik. Iets tussen ’n springbok en Karoo-lam,” sê Wilson.
Die bokke het kort en lang hare, en die pels kan swart, bruin, rooi en grys wees. Die horings is indrukwekkend lank. Hulle drink nie baie water nie en is nie geneig om siektes te kry nie. Bosluise skeel hulle nie, sê Wilson.
Die bokke is van die Tankwa-Karoo na Carnarvon verskuif, waar hulle aangeteel het. Die trop is in groepe verdeel en aan mense oor die land heen verkoop of geskenk.



