Diegene wat antieke ware en versamelaarsitems het wat hulle op ’n veiling wil verkoop, kan aan die Erfenisdagveiling op 24 September in Bloemfontein deelneem.
Dié veiling ten bate van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds, word vanjaar in die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangebied.
NoordkaapBulletin is een van die publikasies van Sentraal24.
Die reëlingskomitee in samewerking met Pieter Erasmus van Bainsvlei-afslaers het reeds begin om voorraad vir dié besonderse veiling te kry.
Betsie Roux, voorsitter van die komitee, sê voorraad vir die veiling word gekeur om ’n veiling van goeie standaard te hou.
“Ons wil ’n veiling aanbied waar mense werklik spesiale items kan koop. Ons fokus is op mooi en interessante versamelaarsitems en antieke meubels.”
Saam met die veiling word ’n mark, deur die Hospice-winkel op die perseel van die Oorlogsmuseum, aangebied. Kunstenaars word ook genooi om hul skilderye te vertoon en te verkoop.
Inskrywings vir die veiling kan tot 18 September gemaak word en reëlings kan getref word om voorraad by Bainsvlei-afslaers af te laai.
- Registrasie vir almal wat aan die veiling wil deelneem, word op die dag van die veiling gedoen. Die registrasiegeld van R50 asook ’n deel van die kopers- en verkoperskommissie van elke item wat verkoop word, word aan die Kersfonds geskenk.
- Hou Bainsvlei-afslaers se Facebook-blad dop vir foto’s van die voorraad. Besigtiging van die voorraad vind Saterdag vanaf 08:00 in die museum plaas, waarna die veiling om 12:00 begin.
- Rig navrae aan Roux by 082-413-9275.





