Sakelui in een van Kimberley se besigste sakegebiede vlak by die Groot Gat is raadop oor deurgangsroetes waar waterlekke, pype bo die teerpad se oppervlak, en oop slote en gate wat die Sol Plaatje-munisipaliteit gegrawe het, die afgelope agt weke voorkom.
Hulle sê die munisipaliteit se dienslewering is “onaanvaarbaar” en sakelui moet hul stem dik maak. Boonop voel hulle bedreig indien hulle kla.
“Dit voel of ons in ’n mafia-wêreld leef,” sê Tat Scholtz, eienaar van NC Pumps.
Waterworksstraat, waar dit met George- en Grahamstraat en South Circularweg kruis, asook die vloedwatersloot, is in ’n haglike toestand, sê hy.
“Die lekkende pype onder Waterworks- en Grahamstraat word kort-kort herstel, maar die paaie word nie ordentlik reggemaak en oorgeteer nie. Die gate en slote word net met grond toegegooi en nie gekompakteer nie.”
Voertuie wat al in die gate in Waterworksstraat vasgeval het, het ernstige skade opgedoen en moes uitgesleep word.
“Een vragmotor het tot op die as in die modder weggesak. Die betrokke sakeman weier nou om enigiets by my af te lewer weens die swak pad. Wat dink toeriste van ons vuil stad en die gevaarlike pad na die Groot Gat? Die verval van Kimberley is skokkend.”
Grond, klippe en stukke teer lê in die vloedwatersloot. Met die onlangse reën van Sondag (23/10) het dit weer ingespoel.
“Die vloedwaterkanale is waarskynlik verstop. Die paaie gaan erg oorspoel wanneer ons swaar reënbuie kry.”
Die munisipaliteit het ook ’n sloot dwarsoor Grahamstraat tot op die sypaadjie gegrawe en met grond toegegooi. Scholtz sê die pad raak ’n onbegaanbare modderspul wanneer die pype lek.
“Met die werk aan die lekkende pype is my Telkom-lyn beskadig en afgesny. Wanneer kliënte my nie kan bel nie, verloor ek ’n inkomste. Ons as belastingbetalers verwag dat instandhoudingswerk gereeld en ordentlik gedoen word.”
Scholtz sê sakemanne en raadslede moet die munisipaliteit tot verantwoording roep.
“Ek betaal my belasting, skep werk, dra by tot die ekonomie. Swak dienslewering mag nie as normaal aanvaar word nie.”
Danie du Toit, eienaar van The Faith Shop wat onder meer gas en batterye verkoop, sê die twee bane van Waterworksstraat, by Georgestraat, is nou een omdat die ander onbegaanbaar geword het.
“Die verkeer hoop op en motoriste sien lewensbedreigende gate nie raak nie.”
Nisha Singarum, bestuurder van Mr Tool Hire, sê die stof wat van die pad opwarrel is verstikkend.
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê hulle het ’n voorwaardelike assessering deur Bigen Africa laat doen.
“Die munisipaliteit het sowat R550 miljoen nodig om die agterstand in die onderhoud van paaie te doen. Ons kry jaarliks ’n toelaag van R15 miljoen as deel van die geïntegreerde stedelike ontwikkelingstoelaag. Dit is net ’n fraksie wat ons benodig om ons padnetwerk op ’n aanvaarbare vlak te bring. Ons is bewus van die probleme in Albertynshof en die pad sal binnekort herstel word.
“Die span van die wateraanleg-afdeling weet wanneer hulle gebarste pypnetwerke herstel, moet hulle die padgedeelte afsluit en padgebruikers waarsku, veral snags.”
Sy sê weens begrotingsbeperkings fokus hulle op die belangrikste hoofpaaie wat herseël word.
“Verlede jaar het ons Phakamile Mabijaweg geteer. Vanjaar is dit Mainweg en ander hoofpaaie in Galeshewe. South Circularweg en Greenstraat/North Circularweg sal volgende wees. Voorheen is padonderoud deur kontrakteurs gedoen, maar nou doen die munisipaliteit dit. Dit werk goed, want die afgelope twee maande het die span byna 20 000 m² se slaggate reggemaak.”



