Die nalaat van die Dawid Kruiper-munisipaliteit om die emmers van die omstrede emmertoiletstelsel gereeld leeg te maak, het inwoners opnuut ontevrede.
Na bewering is die emmers in twee wyke van Upington – New Heaven in wyk 6 en Makwetavallei in wyk 13 – onlangs vir tot vier weke nie leeggemaak nie.
Dit lig nie net die onvoldoende sanitasiedienste in en om Upington uit nie, maar laat ook die kollig skyn op die regering se versuim om die emmerstelsel uit te roei, sê Sam Sandlana, DA-raadslid, in ’n verklaring op 18 Oktober.
Omdat mense se huise baie naby die toiletgeriewe is, het die situasie ’n negatiewe impak op elke aspek van hul huislewe, met ’n ondraaglike reuk; en wurms en vlieë wat uitbroei.
Weens die munisipaliteit se versuim om die emmers leeg te maak, maak sommige inwoners die oorvol emmers in die veld, of selfs in hul eie erwe, leeg. Ander verlig hulself in die veld, wat bykomende gesondheids- en veiligheidsrisiko’s inhou.
Sandlana sê in ’n onlangse voorlegging in die parlement deur die kantoor van die ouditeur-generaal, het dit aan die lig gekom dat die departement van water en sanitasie (DWS) weer nie sy teiken bereik het om die emmertoiletstelsel uit te roei nie.
Van die toegekende bedrag van net meer as R292 miljoen vir die uitroei hiervan in die Noord-Kaap en die Vrystaat, is slegs R49 miljoen – oftewel 17% – van die begroting glo bestee.
“Dit onthef egter nie die munisipaliteit van die verantwoordelikheid vir die oorblywende emmers binne sy jurisdiksie nie,” sê Sandlana.
Hy sê die party het die saak op ’n munisipale komiteevergadering geopper, en die munisipaliteit het belowe om die emmers leeg te maak.
Benewens om te verseker dat emmers gereeld leeggemaak word, wil die party ook ingelig word oor waarom die emmer-uitwissingsteikens nie bereik word nie.





