“Jy breek hom in stukkies. Stukkie-stukkie.”
Só het July die nuwe jaar ingegaan.
July het by ons op die plaas gewerk. Hy was ’n goeie werker, het baie jare lank daar gebly en het sy eie manier van dink en doen gehad. Nie eintlik baie gepraat nie. Fisiek was hy ’n sterk en groot man.
Ons het gelag vir sy naam. Ek het altyd gedink dit is snaaks as jy in Januarie vir July roep.
Of in Julie het ons graag gesê: July, dit is nou Julie! Dit is jou maand.
Ek weet nie of hy vandag nog lewe nie, maar die afgelope week toe ek hoor iemand sê ’n mens eet ’n olifant stukkie-stukkie, bedoelende handel ’n groot taak af deur klein te begin, het ek weer aan July gedink.
Daar op Twyfelhoek. Nuwejaar het hulle voor die huis kom staan. Almal ’n mooi jaar toewens en die nuwe jaar met ’n partytjie begin.
Altyd dieselfde manier van doen.
Ek onthou hoe Ma gevra het: “July, hoe gaan ons deur hierdie jaar kom?”
Dit was die laat 1980’s.
Hy het gelag; baie vrolik en luidkeëls geantwoord: “Jy breek hom in stukkies. Stukkie-stukkie.”
Daardie Nuwejaar lê soveel jare terug in die geskiedenis.
Tog is dit maar waar van elke dag.
Daar is eintlik nie ’n ander manier om alles rondom ons te hanteer nie.
Dit kan berge wees wat te hoog lyk wat geklim moet word, oorloë en bomme om jou, werk wat afgehandel moet word.
Breek hom in stukkies.
Só kom ons anderkant uit.



