Die aansoek dat die streeklanddros homself van Floyd Teu, bekende sakeman van Kimberley se verdere bedrogverhoor verskoon, is Vrydag 12 Mei van die hand gewys.
Dit volg op Teu se aansoek dat streeklanddros Vernon Smith homself moet verskoon weens sy persepsie dat die landdros bevooroordeeld is.
Smith het in ’n kort kragtige uitspraak die aansoek wat Woensdag en Donderdag aangehoor is, van die hand gewys.
Die saak spruit uit ’n voorval wat ’n dekade gelede plaasgevind het. Teu het na bewering in Oktober 2013 ’n BMW van R1,3 miljoen van sy sakevennoot geleen om na Johannesburg te reis. Hy het glo ’n vals klagte by die polisie ingedien dat die voertuig in ’n kaping gesteel is. Verdere ondersoek het getoon dat Teu glo die motor in Tanzanië verkoop het. Die polisie het in 2018 die motor vanuit Dar Es Salaam na Suid-Afrika teruggebring.
Teu, eienaar van Barolong Funeral Parlour, en Sakkie Gerber is aanvanklik van bedrog en geldwassery aangekla wat uit ’n motortransaksie van R1,3 miljoen spruit. Gerber is vrygespreek.
Smith het Tau in Maart 2021 aan bedrog en regsverydeling skuldig bevind en effektiewe gevangenisstraf van sewe jaar op elk van die aanklagte opgelê, wat gelyklopend uitgedien moet word.
Teu het na die hooggeregshof geappelleer. ’n Ooreenkoms is ’n jaar gelede bekragtig om die saak na die landdroshof terug te verwys hangende nuwe getuienis wat Teu wil aanbied. Die skuldigbevinding en vonnis is vir eers tersyde gestel. Teu is ook op borgtog vrygelaat.
Die verhoor sou weer op 30 Januarie begin. Die betrokke regsverteenwoordiger kon nie voortgaan nie weens ’n inbraak waarin sy notas gesteel is. Die volgende dag het Teu ’n nuwe regsverteenwoordiger aangestel en die saak is noodgedwonge uitgestel.
Adv. Ferdi van Heerden het namens Teu aangevoer dat hy ’n persepsie het dat die landdros partydig is. Dit spruit uit indringende vrae wat die landdros aan die korrektiewe beampte in die voorvonnisverhoor gestel het. In Januarie vanjaar het die landdros na bewering aangedring dat die regsverteenwoordiger steeds getuies roep al het hy nie sy notas gehad nie. Hy het aan Teu gesê hy vertraag die verhoor, en hy “jok gedurig en manipuleer mense om hom”.
Adv. Isaac Mphela, aanklaer, wat die aansoek teengestaan het, het gesê die nuwe aansoek is verrassend. In die tyd ná die vonnisoplegging en in sy verdere aansoeke het Teu nooit aangevoer dat die landdros partydig was nie. Hy was selfs bereid om nuwe getuienis voor dieselfde landdros aan te bied.
Mphela voer aan dit was hy wat die korrektiewe beampte deeglik kruisondervra het omdat sy partydig vir Teu was. Haar verslag het nie die impak van die misdaad op die slagoffers ingesluit het nie.
Mphela het destyds gedink die aanstel van ’n nuwe prokureur is ’n uitsteltegniek. Teu moes gedurende die verhoor toegee dat hy oneerlik was oor ’n betrokke voorval. Hy was ’n swak getuie wat erken het hy het ’n vorige veroordeling weens bedrog.
In sy uitspraak het die landdros bevind die aansoek het geen gronde nie. Hy het vroeër die verhoor uitgestel nadat hy vrae oor vertragings en die beskikbaarheid van getuies in belang van geregtigheid gestel het. Hy het ook reeds ’n bevinding oor Teu se geloofwaardigheid in die uitspraak gemaak.
Teu het nooit in sy aansoeke na die hooggeregshof oor partydigheid gekla nie. Indien dit wel ’n kwessie was, sou hy die hooggeregshof versoek het om die appèlaansoek aan te hoor eerder as om in te stem dat die verhoor weer voor hom voortgaan.
Teu se regspan het nog geen aanduidings gegee of hul getuies beskikbaar is nie.
Die beskuldigde moet weer op 5 Julie in die hof verskyn.





