’n Paar groot, ou bome by die skool en koshuis van die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas het Vrydag (11/03) tydens ’n storm in die dorp omgeval. “Ons is baie hartseer oor hierdie bome wat geslagte by ons skool sien kom en gaan het. Ons is egter ook baie dankbaar dat die skade aan ons geboue baie beperk is en dat niemand seergekry het tydens die gebeure nie,” skryf die skool op sy Facebook-blad.

Foto: Facebook/Hoërskool Martin Oosthuizen Credit: SYSTEM

’n Hewige storm het inwoners van Kakamas se naweek erg ontwrig.

Bome wat in die storm Vrydagmiddag laat (11/03) ontwortel is en op kragdrade beland het, het die dorp twee dae lank sonder krag gelaat terwyl daar lank ook nie water was nie.

André Mouton, hoof van die Hoërskool Martin Oosthuizen in die dorp, sê ’n groot bloekomboom by die skool is ontwortel en die doringboom voor sy kantoor is ook omgewaai en het die skoolgebou se dak getref.

“Daar is beslis skade aan die skoolgebou se struktuur, maar die omvang daarvan sal ons kan vasstel wanneer die boom verwyder is.

“Die storm het nie lank geduur nie, maar die wind was baie, baie sterk. Sommige mense sê dit was die sterkste wind wat hulle al hier ervaar het.”

Hy sê hy weet nie van paaie wat verspoel het weens die baie reën nie. Die skade is eerder deur die wind veroorsaak.

“Die wind het kragonderbrekings veroorsaak deurdat ontwortelde bome op kragdrade beland het.

“Dit het weer meegebring dat water nie gepomp kon word nie, sodat inwoners sonder krag én water was.”

Marie Nel, ’n inwoner van Kakamas, sê sy was bykans twee dae sonder krag, terwyl daar ook nie water was nie.

“Die krag was Vrydagmiddag om 16:45 af. Groot, groot bome is ontwortel en van hulle het op huise se dakke beland.

“Dit is die ergste stormwind wat ek nog beleef het.”

Sy sê elektrisiëns het onverpoos gewerk en moes onder meer ’n paal herstel wat gebreek het en kabels optel wat op die grond beland het.

Marietjie Gericke

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article